Balju klop aan Shilowa se deur
2011-07-20 10:07
Johannesburg – Die balju van die hof het beslag gelê op die bates van Mbhazima Shilowa by sy huis in Roodepoort, het The Star Woensdag berig.
Die goedere sal opgeveil word om sy politieke teenstander, Mosiuoa Lekota, R72 000 in regskostes te betaal.
Die hof het verlede jaar in Lekota se guns beslis en Shilowa verbied om homself die president van Cope te noem. Die hof het beslis dat Shilowa die regskostes van die saak moet betaal.
Volgens The Star het die balju beslag gelê op 'n yskas, wasmasjien, twee sitkamerstelle en twee muurkaste by die huis in Constantia Kloof, Roodepoort, in die noordweste van Johannesburg.
Sipho Ngwema, Shilowa se woordvoerder, het aan The Star bevestig dat die balju beslag gelê het op die bates, maar dat die regskostes reeds betaal is en die goedere terugbesorg sal word aan Shilowa se familie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA