Bakkie tref baba, kleuter op pad
2010-04-24 13:40
Sonja van Buul, Beeld
Sasolburg. – Twee Amerikaanse sussies, ’n baba en ’n kleuter, is ernstig beseer toe ’n motoris hulle hier met sy bakkie getref het waar hul ma hulle by ’n voetgangeroorgang oor die straat geneem het.
Mirriam Bickoff, die 20 maande oue baba, se stootwaentjie het deur die lug getrek en Leah, haar vierjarige sussie, se hand is deur die slag van die bakkie uit dié van haar ma, Penny, geruk.
Hulle is die gesin van mnr. Ira Bickoff (50), ’n uitruil-onderwyser wat by die Hoërskool Sasolburg les gee in fisiese wetenskappe.
Die ma en haar kinders het die voetgangerkruising in D.F. Malanweg oorgesteek nadat voertuie in die regterbaan van die dubbelpad stilgehou het sodat hulle oor die pad kan stap.
“Die volgende oomblik het die bestuurder van ’n bakkie die stilstaande voertuie links verbygegaan en Leah en die stootwaentjie getref,” het ’n ooggetuie wat nie sy naam genoem wil hê nie, aan Beeld gesê.
Dié getuie was in een van die stilstaande voertuie en het gesien hoe die baba se stootwaentjie deur die lug trek.
Leah het vermoedelik ernstige kopbeserings opgedoen en haar been is gebreek. Dis is nie duidelik wat die aard van Mirriam se beserings is nie.
Die meisies is na die verskillende hospitale geneem nadat paramedici van ER24 en die Metsimaholo-nooddienste noodbehandeling op hulle toegepas het.
’n Oud-leerling van Bickoff se skool, mnr. Shaun Murray (30), wat dié gesin ken, het verby die ongelukstoneel gery en Muller daarvan laat weet.
Muller het Bickoff uit sy klas gaan haal, hom vertel van die ongeluk en gereël dat hy dadelik na die toneel geneem word.
Volgens me. Vanessa Jackson, ER24-woordvoerder, is mev. Bickoff, wat nie beseer is nie, saam met Mirriam na die Vaalpark-hospitaal vir behandeling. Die baba is later na die Vereenigingse Medi-Clinic oorgeplaas.
Mev. Selka-Ann Badenhorst, woordvoerder van dié Medi-Clinic, het gesê sy weet nie wat die aard van die baba se beserings is nie, maar het haar toestand as stabiel beskryf. Sy word in die waaksaal behandel.
“Leah se toestand is op die ongelukstoneel gestabiliseer voordat sy na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg geneem is vir behandeling,” het Jackson gesê. Leah word in die waakeenheid behandel.
Mnr. Bickoff het gistermiddag langs die bed van sy oudste dogter gewaak terwyl sy vrou by hul baba was.
Die bakkie se bestuurder is nie beseer nie. Hy verskyn Woensdag in die landdroshof, het konst. Sellwane Legae, polisiewoordvoerder, gesê.