Baie wil weet oor die hoë bedrag
2010-09-05 11:20
Rapport
PRETORIA - Hy kon dit wel binne ’n paar minute betaal, maar dit gons oor die “hoë” borgtog van R100 000 wat Bees Roux moes opdok.
By dié Blou Bul-stut se borgtogaansoek Maandag in die Pretoriase landdroshof was die staat en die verdediging dit aanvanklik eens dat dit toegestaan moet word.
Matric Luphondo, hoofaanklaer, het ’n bedrag van R20 000 voorgestel.
Die staat en die verdediging was dit eens dat ’n moordklag ’n skedule 5-oortreding is.
In sodanige geval moet die beskuldigde kan aandui dat dit in die belang van geregtigheid is dat hy of sy vrygelaat word.
Maar hooflanddros Desmond Nair het toe bevind die moordklag waarop Roux teregstaan, is ’n skedule 6-oortreding.
Dit is omdat die oorledene ’n wetstoepasser was wat aan diens was en oënskynlik sy pligte uitgevoer het.
By ’n skedule 6-aanklag moet die verdediging “buitengewone omstandighede” bewys om vir borgtog in aanmerking te kom. Die staat het toe die borgtogaansoek teengestaan.
Rudi Krause, Roux se regsverteenwoordiger, het ter motivering van die “buitengewone omstandighede” gesê sers. Johannes Mogale was dalk aan diens, maar het nie wetstoepassing gedoen nie.
Sers. Patrick Mafanele, wat deel van die ondersoekspan is, is geroep om te getuig. Krause het dit aan hom gestel Roux se kredietkaart is gebruik terwyl hy in aanhouding was.
Die verdediging voer aan Roux se verweer berus op selfverdediging.
Roux ontken hy het onder die invloed van alkohol bestuur en sê die bewyse dui daarop dat die betrokke metropolisielede moeilikheid gemaak het.
Nair het in sy uitspraak gesê Roux het wel nie vorige veroordelings of uitstaande sake nie, maar ander faktore moet in gedagte gehou word wanneer hy bepaal of daar ’n vlugrisiko is. Roux het ’n paspoort en het al in verskeie lande rugby gespeel.
Hy het vroeër in Frankryk gebly, en het steeds ’n bankrekening daar wat op sowat € 5 000 staan.
Die borgtog is toe vasgestel op R100 000. Roux het in sy verklaring gesê hy verdien R850 000 per jaar.
“Die bedrag is buitensporig, in ag genome die (verdagte) omstandighede,” het Krause aan Rapport gesê.
Verskeie lesers het ook hul ontsteltenis in briewe aan koerante en op die internet uitgespreek.
- Rapport