'Baie min inligting' bekend oor ontvoerde man
2011-11-28 10:02
Johannesburg – Daar is "baie min" inligting oor die ontvoering van 'n Suid-Afrikaner in Mali, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking Maandag gesê.
"Die departement is in kontak met die familie. Ons het die familie ontmoet om notas te vergelyk en konsulêre bystand te bied. Die familie wag angstig op enige nuus," het Clayson Monyela, woordvoerder, aan SAfm gesê.
"In die stadium weet ons baie min."
Monyela het gesê die Suid-Afrikaanse ambassade werk nou saam met die owerhede in Mali, wat 'n "grootskaalse soektog" na die ontvoerdes van stapel gestuur het.
Hy het gesê die departement is gesê dat dit veiliger sal wees om nie die naam van die 36-jarige Suid-Afrikaanse man, wat Vrydag saam met Sweedse en Nederlandse toeriste ontvoer is, bekend te maak nie.
"Ontvoerders kyk, luister en monitor alle inligting sodat hulle dit kan gebruik om hul agenda te bereik."
Ali Maiga, die mans se toergids, het aan AP gesê gewapende mans het by 'n restaurant in Timbuktu ingestorm, vier toeriste gegryp en 'n Duitser, wat geweier het om in hul vragmotor te klim, tereggestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA