Babas kry klappe by hul dagma
2011-02-14 09:10
Pretoria – ’n Dagmoeder van Pretoria het ’n nege maande oue seuntjie so hard op die wang geklap dat die merke vyf dae later steeds sigbaar was.
Linda Mans van die Teddie Winks-kleuterskool in Suiderberg sal glo Maandag self na die Hercules-polisiekantoor gaan.
Daar word twee aanklagte van aanranding teen haar ondersoek, het kapt. Agnes Huma, ’n polisiewoordvoerder, Sondag gesê.
Mans het in ’n briefie aan Chantelle Roos en Anton Myburgh, ouers van Divan, “groot askuus (sic)” gevra vir die klap wat glo vir haar eie kind bedoel was.
Mans is ook aangekla van die aanranding van Keylaene-Maré Schreiber (agt maande).
Die meisie is na bewering “herhaaldelik en hard” op die boude, bene, lae rug en arm geslaan. Mans het aan Daryl (27) en Bernadine Schreiber (30), Keylaene-Maré se ouers, gesê ’n vrou in haar diens het hul dogter “gepiets omdat sy nie wou slaap nie”.
Keylaene-Maré is op 10 Januarie geslaan toe sy nog skaars ’n week by die dagmoeder was.
Sy was ’n nag in die Little Company of Mary-hospitaal in Groenkloof, Pretoria, om seker te maak sy het nie erger beserings opgedoen het nie.
Die dagmoeder het glo aan Keylaene-Maré se ouers gesê ’n helper, wat sy nie kan opspoor nie, het hul dogtertjie aangerand. Volgens me. Schreiber het Mans gesê sy moes met haar ma hospitaal toe jaag en die kinders in die helper se sorg laat.
“Sy het gesê sy het verlede jaar ’n SMS van ’n vrou gekry wat werk soek en gesê het sy kan help met kinders. Sy het gesê dié vrou het ons kind ‘gepiets want sy wou nie slaap nie’,” het me. Schreiber Sondag vertel.
“Daar is egter geen detail of bewyse dat daar wel so ’n persoon daardie dag by die kleuterskool gewerk het nie. Sy het glo die vrou die straat af gejaag nadat sy my baba se boude gesien het.”
Schreiber het gesê hy moes die dag van die aanranding iemand bel om saam met hom kleuterskool toe te gaan, want hy was bang hy sou die dagmoeder iets aandoen.
“Toe die dokter my kind ondersoek en haar doek afhaal, was daar trane in my oë,” het hy gesê.
Hulle het dieselfde dag hul geld gaan terugvra en die kind uit Mans se sorg gehaal.
Myburgh van Andeon, Pretoria, het Sondag gesê hy was geskok toe hy van die polisie hoor dit is die tweede aanrandingklag teen Mans.
Vingermerke was Sondag steeds op Divan se regterwang te sien nadat hy vroeër die week geklap is.
Myburgh het die dagmoeder se briefie gewys. Dit lui: “Ai pappa en mamma. Groot askuus vir die merk op boetie se wang, regtig ’n ongeluk gewees. Bedoel gewees vir my seuntjie en toe koes hy en die hou tref boetie. Voel baie sleg, regtig jammer.” Haar eie seun is glo vier jaar oud.
Myburgh het gesê toe hulle die dagmoeder gaan spreek het oor wat met hul seuntjie gebeur het, het sy geen simpatie getoon nie.
Beeld het die dagmoeder gebel. Sy het nie haar selfoon beantwoord nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld