Babalyk in tas gevind
2009-10-23 16:51
Johannesburg - Die lyk van ’n drie weke oue babaseuntjie is eergister in ’n blou oornagtas, versteek onder plante, naby ’n voetpaadjie in Pretoria-Noord ontdek.
Die voetpaadjie is naby die hoek van Ben Viljoen- en Pagelstraat.
Insp. Werner van den Bergh van die polisie se Pretoria-Noord-speurtak het gesê die baba het net ’n weggooidoek aangehad.
Inwoners en mense wat in die woonbuurt werk gebruik daagliks die voetpaadjie wat van die Pretoria-Noord-stasie loop, het Van den Bergh gesê.
“’n Boemelaar het gedink daar is iets in die tas wat hy kan gebruik. Toe hy dit oopmaak, het hy onmiddellik die polisie gebel,” het Van den Bergh gesê.
Volgens hom doen die polisie ’n geregtelike doodsondersoek en ’n lykskouing sal vandag op die baba gedoen word om vas te stel waaraan hy dood is.
“Die polisie vermoed die kind is dalk by sy huis dood en is toe deur iemand in ’n tas gesit en onder die plante versteek.”
Van den Bergh het ’n beroep op enigiemand wat moontlik inligting oor die baba het om die polisie by (012) 353 5600 te bel.
–Beeld