Baba uit winkelsentrum ontvoer
2010-05-19 11:38
Johannesburg – Die polisie in Gauteng het Woensdag ‘n beroep op die publiek gedoen om te help om ‘n drie maande oue baba op te spoor wat in Pretoria ontvoer is.
Baba Mbalentle Ngobeni is Dinsdagmiddag uit sy ma, Smangele Fila, se arms gesteel deur ‘n vrou wat glo vir haar werk aangebied het.
“Fila het na die Bloedstraat-winkelsentrum gegaan nadat sy deur ‘n onbekende vrou genader is wat haar werk in die winkelsentrum aangebied het,” het kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, gesê.
“Toe sy by die winkelsentrum opgedaag het, het die vrou vir haar gesê dat sy nie die regte kleredrag aangehad het. Sy het haar na ‘n winkel geneem om ‘n rok aan te pas.”
Die vrou het die baba vasgehou terwyl Fila die klere aangepas het. Na bewering het die vrou toe met die baba op die vlug geslaan.
Die verdagte word beskryf as middeljarige swartvrou met groot heupe. Sy het ‘n swart vlek op haar gesig en ‘n litteken op haar regterarm. Sy het glo ‘n groot blou ring aangehad en het gesukkel om Zulu te praat.
Enigiemand met inligting kan ao. Mike Mokgakane by 082 778 7893 kontak.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.