Baba sterf in brand
2011-12-19 16:48
Kaapstad – ‘n Baba van 18 maande het Maandagoggend gesterf en 33 mense is dakloos gelaat in verskeie brande in die Kaapstad-gebied, het die stad gesê.
Die baba het Maandag in die vroeë oggendure in die Happy Valley-informele nedersetting naby Blackheath gesterf. Dié brand het vyf sinkhuise verwoes en 17 mense dakloos gelaat, het die stad se rampbestuursentrum in ‘n verklaring gesê.
In die Joe Slovo-informele nedersetting in Langa is vyf mense dakloos gelaat nadat ‘n brand omstreeks 02:45 twee sinkhuise verwoes het.
Die brand is deur slagoffers en lede van die gemeenskap geblus.
Teen 07:40 het nóg ‘n brand uitgebreek by Forest Heights en twee agterplaas-sinkhuise en ‘n formele huis beskadig. Elf mense is dakloos gelaat.
Die sentrum se waarnemende hoof, Wilfred Solomons-Johannes, het gesê die oorsaak van die brande word ondersoek.
“Reëlings is getref om die slagoffers by te staan met kospakkies, klere, komberse, boumateriaal en traumaberading,” het Solomons-Johannes gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA