Baba op treinspoor gevind
2010-08-29 20:00
Johannesburg – ‘n Baba dogtertjie wat net ‘n paar dae oud is, is op ‘n treinspoor in Jabulani, Soweto gevind, het die Gautengse polisie gesê.
Volgens ao. Kay Makhubela is die baba deur pendelaars gevind.
“Pendelaars wat besig was om van hul taxi na die Ihlanzane-treinstasie te loop, het die baba op die spore sien lê en ons dadelik gekontak,” het Makhubela gesê.
“Ons het omstreeks 14:30 na die toneel gejaag en die huilende baba dogtertjie opgetel,” het hy gesê.
Hy sê die baba sou deur ‘n trein doodgery word as niemand haar gesien het nie.
Die polisie vermoed dat die baba slegs ‘n paar dae oud is aangesien haar liggaam nog met bloed bedek was.
Sy is glo op die spore gelos met slegs ‘n doek aan en met ‘n wit laken toegemaak.
Die baba is Sondagmiddag na die Chris Hani Baragwanath hospitaal vir toetse geneem.
Volgens Makhubela is die polisie bekommerd dat die baba weens die stakings dalk nie by die hospitaal opgepas sal word nie.
“As daar niemand is wat haar sal help nie, sal ons ander hospitale kontak om te hoor of hulle toetse op haar sal doen,” het hy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA