Baba met hartdefek huis toe gestuur; sterf toe
2010-08-21 13:28
Johannesburg - ’n Sewe dae oue baba is dood nadat stakende dokters in die Dr. C.N.
Phatudi-hospitaal naby Tzaneen sy ouers glo aangesê het om hom huis toe
te vat weens die staatsdiensstaking.
Dokters en verpleegsters kon klein Jimmy Mboweni glo nie langer versorg nie weens ’n personeeltekort.
Mnr.
Jacques Smalle, DA-LPW, het gister gesê omdat die baba se toestand
bedenklik was toe hy huis toe gestuur is, is sy dood “gelyk aan moord.
Die skuldiges moet strafregtelik vervolg word”.
Mnr. Jajeka Mboweni het gesê sy kleinseun het nog tot eergistermiddag suurstof ontvang. Hy is met ’n hartdefek gebore.
Hy was van ná sy geboorte aan lewensondersteuningsapparate in ’n broeikas in die hospitaal gekoppel.
’n
Hartseer Mboweni het gesê: “Omdat die dokters en verpleegsters staak,
het hulle aan my dogter gesê hulle kan nie meer na Jimmy kyk nie. Hulle
het sy suurstof afgehaal.”
Me. Nsovo Mboweni, die baba se ma, is omstreeks 12:00 aangesê om Jimmy huis toe te vat.
“Hy is 18:30 die aand dood,” het Mboweni gesê.
Die Mboweni-familie woon in die Burgersdorp-nedersetting naby Tzaneen.
Smalle
het gesê die DA dring aan op ’n ondersoek na die kind se dood. “Ons wil
ook by die LUR’e van gesondheid en veiligheid weet of die dokter wat
gesê het die kind moet huis toe gaan, strafregtelik vervolg gaan word.”
Smalle weet wie die dokter is. Hy gaan die inligting aan me. Miriam Segabutla, LUR vir gesondheid, gee.
’n Lykskouing sal gehou word om die oorsaak van Jimmy se dood te bepaal.
Me.
Roleta Lebelo, woordvoerder van Limpopo se gesondheidsdepartement, het
teen druktyd nie op Beeld se boodskappe met versoeke om kommentaar
gereageer nie.
Die uitvoerende hoof van die hospitaal, mev. Mabitsela, wou nie kommentaar lewer nie. Sy het Beeld na Lebelo verwys.
-
’n Dokter het gister lank by stakers gepleit om in die
Letaba-hospitaal, ook naby Tzaneen, toegelaat te word. Hulle het die
ingang versper.
Die dokter moes dringend van sy pasiënte, onder wie ’n vrou wat gekraam het, behandel.
- Beeld