Baba lewend in toilet gevind
2009-08-24 22:46
Lebowakgomo – ‘n Pasgebore baba seuntjie het twee ure lank in 'n puttoilet gelê voordat nooddienswerkers hom gered het.
Volgens. insp. Manong Tshehla, Lebowakgomo polisiewoordvoerder, is die baba in die toilet gegooi nadat sy ma Saterdagaand geboorte aan hom geskenk het.
“Die vrou se familie het besef sy dra nie meer die kind nie. Hulle het haar ondervra en besef wat sy gedoen het. Hulle het dadelik die polisie en nooddienste ontbied,” het Tshehla gesê.
Die polisie, asook lede van die gemeenskap, het gehelp om die toilet af te breek sodat die kind gered kon word. Hy is na die hospitaal geneem waar hy in ‘n stabiele toestand is.
Die vrou is onder polisiebewaking in die hospitaal.
Volgens Tshehla is dit die tweede keerl dat hulle ‘n pasgebore baba uit ‘n toilet moes red.
“Die probleem is dat al hoe meer jonger meisie swanger word,” het hy gesê.
Sodra die vrou uit die hospitaal ontslaan word sal sy vir poging tot moord in hegtenis geneem word.
- African Eye