Baba Marzanne glo blind
2010-05-20 14:40
Johannesburg - Die baba wat vroeër hierdie maand wreed deur inbrekers aangerand is, Marzanne Kruger, is Donderdag uit die hospitaal ontslaan, maar is blind.
Volgens 'n nuusbulletin op Radio Sonder Grense, is dit nie bekend of sy permanent blind sal wees nie.
Haar ma het Marzanne ure na die inbraak en roof bebloed op die kombuisvloer gekry.
Sy was weke lank in die hoësorg-eenheid van die Sandton Medi-kliniek.
Intussen het die Johannesburgse landdroshof vandag bevind dat een van die verdagtes in die aanrandingsaak van baba Marzaan en haar versorger, nie genoeg redes verskaf het om sy vrylating op borgtog te regverdig nie.
Landdros Stanley Nkari het Nelson Maphosa borgtog geweier. Maphosa word saam met 'n tweede verdagte aangekla van huisbraak met verswarende omstandighede en poging tot moord, wat verband hou met die aanval in April in Randburg.
Nkari het gesê hy kan nie verstaan waarom 'n baba tot so 'n mate aangerand word tydens 'n huisroof nie.
Maphosa moes bewys dat uitsonderlike omstandighede bestaan wat sy vrylating regverdig. Die landdros het egter bevind dat Maphosa, 'n Mosambieker wie se burgerskapstatus in die land steeds ondersoek word, geen familie in Suid-Afrika het nie.
'n Derde verdagte word steeds gesoek en die saak is uitgestel tot 7 Junie.
- Die Burger