Atletiek-grote loop oor Caster
2009-09-06 13:37
Johannesburg - Die debakel oor Suid-Afrika se wêreldkampioen in die 800 m, Caster Semenya, het sy eerste grootkop in Suid-Afrikaanse atletiek geëis. Die nasionale hoofafrigter, Wilfred Daniels, het alle bande met Atletiek Suid-Afrika (ASA) verbreek oor ASA se “weersinwekkende hantering” van die saak.
Betroubaar is verneem dat “geslagsevalueringstoetse” wél in Suid-Afrika op Semenya gedoen is, kort voor die wêreldkampioenskapstoernooi in Berlyn, nadat die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) die Suid-Afrikaanse beheerliggaam onder groot geheimhouding versoek het om dit te doen.
Semenya was glo onder die indruk dat dié toetse net “gewone opkikkertoetse” was nadat sy Zola Budd se stokou nasionale junior rekord by die Afrika-kampioenskapstoernooi vir juniors wat in Mauritius gehou is met die beste tyd vanjaar ter wêreld (1:56.72) oortref het.
Sedert Semenya dié tyd in Berlyn tot ’n wêreldklas-1:55.45 verbeter het, kon sy talle uitnodigings na groot internasionale byeenkomste in Europa nie aanvaar nie omdat haar paspoort by haar onstuimige verwelkoming terug op die O.R. Tambo-lughawe “weggeraak het”. Weens haar afwesigheid van dié byeenkomste het sy derduisende rande verloor aangesien oorsese organiseerders tou gestaan het om haar by hul byeenkomste te hê.
Daniels (58) het Dinsdag sy bedanking uit alle SA atletiekliggame per brief aan ASA gestuur. Hy was sedert 1993 nasionale hoofafrigter van SA spanne na sewe wêreldkampioenskapsbyeenkomste, drie Olimpiese Spele, drie Statebondspele en drie Afrika-spele.
“Ek het uit ASA bedank omdat ek nie langer met ’n skoon gewete na myself in ’n spieël sou kon kyk as ek in dié liggaam gebly het nie,” het hy gister gesê.
“Ja, die IAAF het óók ’n aandeel in die Semenya-debakel. Hulle het dié sensitiewe saak verkeerdelik aan die groot klok gehang – daar is in Berlyn vir my uit IAAF-geledere gesê dat dié liggaam vanjaar al ses ‘geslagsevalueringstoetse’ gedoen het. Hoekom het die wêreld nooit van die ander gehoor nie?
“ASA het, op sy beurt, die saak uiters swak gehanteer. Hoekom is Caster die swye opgelê toe die bomme rondom haar gebars het? Dis ’n skande dat die hele storie by ’n wêreldkampioenskap, die grootste oomblik van haar lewe, op die spits gedryf is.
“Sy’s intelligent, maar Suid-Afrika is nie toegelaat om háár kant van die saak te hoor nie.
“Ek weet sy’t begrip vir die situasie. En ek is ontsteld dat sy nie nóú saam met al die ander wêreldkampioene in Europa deelneem nie. Natuurlik sou sy dit wou doen – om nie net haar eie beursie baie dikker te maak nie, maar ook omdat sy die (26 jaar oue) wêreldrekord kon gaan skrik maak.
“En dit grief my dat haar afrigter, Michael Seme, by haar verwelkoming van Berlyn af op O.R. Tambo heeltemal op die agtergrond geskuif is. Niemand het hóm erkenning gegee nie.”
Daniels is in Berlyn deur die IAAF met ’n erepenning vereer vir sy “beduidende bydrae tot die sport in sy land, sy vasteland en die wêreld.” Hy is, sover bekend, die eerste Suid-Afrikaner wat dié eer te beurt val.
- Rapport het uit ’n ander oord verneem die geslagsevalueringstoetse is kort ná Mauritius “in ’n Pretoriase kliniek” op Semenya uitgevoer. Volgens die IAAF-reëls moet vier kundiges betrokke wees: ’n ginekoloog, ’n endokrinoloog, ’n sielkundige en ’n internis.
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek
Rapport