Atlete nou ‘bevry van korrupsie’ met nuwe ASA-raad
2010-09-20 07:01
“Halleluja! Uiteindelik, ná jare is ons atlete bevry van korrupte administrateurs met geheime politieke agendas.
“Van nou af kan dit met Suid-Afrikaanse atletiek net goed gaan.”
Dit is maar een van talle SMS-boodskappe wat Saterdagmiddag die rondte tussen plaaslike atlete en afrigters gedoen het nadat die uitslag van die stemmery vir die nuwe raad van Atletiek Suid-Afrika (ASA) bekend gemaak is.
Vier voormalige atlete is tot die ASA se raad verkies.
Geraldine Pillay (medaljewenner op die Statebondspele), Arnaud Malherbe (gesamentlike SA rekordhouer in die 400 m), Hendrick Ramaala (voormalige wenner van die New York-marathon) en Blanche Moila (voormalige Springbok-marathonatleet) is die atlete wat voortaan ’n sê sal hê oor hoe dinge in Suid-Afrikaanse atletiek gedoen moet word.
Pillay, wat self die afgelope week in die nuus was omdat daar verkeerdelik in die media “onthul” is dat sy in 2008 by ’n dwelmskandaal betrokke was, het die uitslag van die verkiesing as die begin van ’n nuwe era in Suid-Afrikaanse atletiek bestempel.
Pillay is as die ASA se atlete-verteenwoordiger verkies.
“Die eerste doelwit wat ek vir myself stel, is om so gou moontlik uit te vind wat die atlete se behoeftes is, want uiteindelik gaan atletiek oor die atlete en nie oor ons as administrateurs nie.
“Ontwikkeling is ook vir my belangrik. Ons moet vasstel hoeveel diepte daar in Suid-Afrikaanse atletiek is.
“Daar moet ook ernstig aandag geskenk word aan ontwikkeling in die swart woonbuurte.
“Ek sal geld daarop verwed dat daar talle Usain Bolts en David Rudishas rondloop wat nog nooit ’n regverdige kans gekry het om hul atletiektalent te ontwikkel nie.”
Volgens Malherbe, wat as ’n addisionele lid verkies is, moet die nuwe raad so gou as moontlik toegang tot die ASA se banksake verkry.
Die ander raadslede is Aleck Skhosana (voorsitter van die padwedlope-komitee), Motlatsi Keikabile en Pieter Lourens (addisionele lede).