Atlete maak hul stem nou dik
2009-10-01 06:52
Sarel van der Walt
Johannesburg - Die land se atlete en atletiekklubs maak hul stemme dik oor Atletiek Suid-Afrika (ASA) en Leonard Chuene se hantering van die Caster Semenya-sage.
Die land se voorste atlete en oud-atlete vergader oormôre in Pretoria oor die saak.
Geen ASA-beamptes sal by die vergadering toegelaat word nie.
’n Johannesburgse atletiekklub beplan op sy beurt om môre ’n mosie van wantroue teen Atletiek Sentraal-Gauteng (ASG, die grootste atletiekprovinsie in die land) in te stel omdat dié se verteenwoordigers op verlede naweek se spesiale ASA-raadsvergadering nié ’n mandaat van dié provinsie se klubs gehad het om Chuene, ASA-president, te steun nie.
Geraldine Pillay, ’n voormalige Olimpiese en Statebondspele-atleet, is ’n organiseerder van die atlete-vergadering.
Sy het gister kaalvuis onder ASA ingeklim en soveel moontlik atlete wat Suid-Afrika al sedert 1994 op die atletiekbaan verteenwoordig het, gevra om die vergadering by te woon.
Sy het gesê die atlete sal ná die vergadering ’n verklaring aan ASA, die regering én die Internasionale Vereniging van Atletiek-federasies (IAAF) stuur.
“As die atlete oormôre vir ons sê hulle is tevrede met Chuene en die bestuur van ASA se optrede, is dit wat ons in die verklaring sal skryf.”
Nog ’n atleet, wat anoniem wil bly, het gesê tot dusver het almal iets te sê gehad oor die Semenya-sage, behalwe die atlete self.
Pillay het nie doekies omgedraai oor ASA nie: “Atletiek gaan oor atlete. Atlete is veronderstel om ASA se grootste bate te wees, maar hulle is nie.”
Sy het gesê eers as atleet en later as TV-kommentator het sy besef vir “die meeste van ASA se bestuur gaan alles net oor die partytjie”.
“Hulle kuier, eet en drink net die hele dag in die VIP-tent. Daar kan ’n wêreldrekord opgestel word, maar die beamptes sal eers op TV-nuus daarvan bewus word. Ek sluk swaar aan Chuene se bewering dat hy Semenya se belange voorop gestel het.”
Beeld het betroubaar verneem die enigste mense wat op die ASA-vergadering bereid was om teen Chuene op te staan, was die voormalige Olimpiese atleet Arnaud Malherbe en adv. James Evans, atletiekbaas van die WP.
Malherbe, ’n voormalige SA atletiekkaptein en ’n atlete-verteenwoordiger op die vergadering, wou hê die vergadering moes die Semenya-sage bespreek, maar dit is nie toegelaat nie.
Chuene was voorsitter.
Richard Mayer, voorsitter van die Johannesburgse atletiekklub Lydiard en ’n prokureur, wil die mosie teen ASG instel. Mayer wil hê die ASG-raad moet aan die klubs sê hoe hy “ASA se leuens en oneerlike optrede” in die Semenya-sage kan steun.
In KwaZulu-Natal en Gauteng-Noord is daar na verneem word ook ongelukkigheid omdat húl verteenwoordigers ook nie teen Chuene opgestaan het nie.
- Volksblad