Aswolk kos SAA miljoene
2010-04-21 11:04
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) se vlugte sal Woensdag weer hervat word nadat dié lugredery reeds sowat R84 miljoen verloor het weens die aswolk wat die Europese lugruimte belemmer.
“Die Britse owerhede het die lugruimte weer oopgemaak. Solank as wat die lugruimte oop is sal ons vlieg,” het Fani Zulu, SAA-woordvoerder, gesê.
SAA was Dinsdag genoodsaak om ‘n vlug na Londen te kanselleer nadat die vulkaan ‘n tweede aswolk uitgespoeg het.
“Ons het Dinsdag ‘n vlug gehad wat omstreeks 10:00 na Londen sou vertrek, maar ons kon nie voortgaan daarmee nie. Die lugruimte is egter omstreeks 11:00 weer geopen. Ons sal na Heathrow-lughawe in Londen vlieg solank as wat dit moontlik is,” het Zulu gesê.
SAA het gewoonlik vlugte wat in die aande na Heathrow vertrek en die skedule sal vanaf Woensdag normaal voortgaan.
Volgens Zulu moes SAA sowat 45 vlugte op drie roetes kanselleer sedert verlede Donderdag.
“Ons het sowat R14 miljoen per dag verloor,” het hy gesê.
- Sapa
Meer inligting is op SAA se webtuiste beskikbaar.