Asemtoetser onbetroubaar, sê hof
2011-09-09 20:07
Kaapstad – Die hooggeregshof in Kaapstad het ‘n saak van dronkbestuur teen ‘n inwoner van Kaapstad laat vaar ná die Dräger-toestel wat gebruik is om sy asem-alkoholvlakke te toets in twyfel getrek is.
Regter Nathan Erasmus het die 28-jarige Clifford Hendricks, wat in Januarie 2010 van dronkbestuur aangekla is, vrygespreek.
“Ek is van mening dat, behalwe vir die feit dat die beskuldigde die voertuig op die spesifieke dag bestuur het, die Staat geen ander aspekte van die aanklagte teen hom kon bewys nie,” het die regter gesê.
“Gevolglik word die beskuldigde vrygespreek.”
Hendricks het die geldigheid van die Dräger-asemtoetse in twyfel getrek.
Op die betrokke aand, was Hendricks se alkoholvlak volgens die Dräger-toestel op ’n konsentrasie van 0.95mg/1 000, vier keer die wettige limiet.
Die betroubaarheid van dié toestel is al vantevore in twyfel getrek.
Verskeie faktore kan 'n rol in die toestel se lesing hê, onder andere of die persoon valstande het en sy liggaamstemperatuur.
Verder is daar ook bewys dat die werktuigkundige wat die toets op Hendricks uitgevoer het, se sertifikaat nie ooreenstem met die sagteware wat in die Dräger-toestel gebruik word nie.
Volg Nuus24 op Twitter.