Arts verkrag glo swanger verpleegster
2012-02-09 08:00
Polokwane – ’n Tandarts is agter tralies nadat hy ’n swanger verpleegster glo in ’n hospitaal in Limpopo verkrag het.
Die 44-jarige dokter is Dinsdagaand in sy kamer in die woonkwartiere van die Ratshatsha-gesondheidsentrum in Maleboho, sowat 160 km noordwes van Polokwane, in hegtenis geneem. Hy werk by die sentrum.
Brig. Hangwani Mulaudzi, kommunikasiehoof van die polisie in Limpopo, het gesê die man het ’n 22-jarige verpleegster wat ook in die woonkwartiere bly na bewering verkrag. Die vrou is ses maande swanger.
Die vrou het die polisie onmiddellik ná die beweerde verkragting gebel.
Mulaudzi het gesê die tandarts het gister vlugtig in die landdroshof verskyn en is borgtog geweier.
Hy moet weer volgende Dinsdag in die Maleboho-landdroshof op aanklagte van verkragting en onsedelike aanranding verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld