Armes ontbeer dít vir Zuma en sy ministers
2011-10-21 08:01
Kaapstad – Duisende huise, etlike skole, tienduisende toilette of ’n gedeelte van ’n hospitaal kan met R400 miljoen gebou word.
Dié vet bedrag is, volgens inligting wat Woensdag in die parlement bekend gemaak is, die afgelope drie boekjare bestee om beter blyplekke en kantore vir pres. Jacob Zuma en sy ministers te skep.
“Dit is egter baie moeilik om te bepaal of die bedrag wat bestee is markverwant is,” het Arnold Bestbier, ’n bourekenaar van die Paarl, Donderdag gesê.
“Jy moet presies weet wat die omvang van die werk is en hoeveel huise betrokke is.”
Die Burger het gaan vasstel wat alles met R400 iljoen gedoen kan word. Uit navrae by eiendomsagente en staatsdepartemente, asook inligting op webwerwe, is die volgende moontlik:
Altesame 2 666 dialise-masjiene kan gekoop word vir mense wat op nieroorplantings wag. ’n Dialise-masjien kos sowat R150 000.
Sowat 3 500 mense in Suid-Afrika wag jaarliks op orgaanoorplantings, waarvan die meeste nieroorplantings is. Net 10% van hulle kry organe en die res sterf. Dialise kos sowat R13 000 per maand.
Vir tuberkuloselyers kan 2 941 nuwe Genexpert-masjiene teen R136 000 stuk gekoop word om TB-toetse te doen.
Suid-Afrika het een van die hoogste tuberkulosesyfers ter wêreld en 500 000 mense word jaarliks teen die siekte behandel.
Die Genexpert-masjiene doen die toets binne twee uur en kan middelweerstandige tuberkulose (MDR-TB) identifiseer.
Duisende leerders sal nuwe skole kan kry as dié bedrag daarvoor benut word. ’n Laerskool vir 1 100 leerders – wat 28 klaskamers, ’n rekenaarlaboratorium, skoolsaal en ses kantore het – kan vir nagenoeg R32 miljoen gebou word.
’n Gemiddelde staatsgesubsideerde laekostehuis van 40 m² kos sowat R100 800 om te bou. Dit sluit in R55 706 vir die huis, R22 161 vir ingenieursdienste en sowat R6 000 vir die erf. Provinsies mag glo ook tot 20% byvoeg vir bykomende ingenieurs- en boukoste.
’n Volle 66 666 toegeboude spoeltoilette kan vir inwoners van informele nedersettings gebou word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger