Apteker skiet homself in apteek
2011-09-27 09:09
Winburg – Dié dorp se apteker het Sondagmiddag sy apteek se deure agter hom toegemaak en homself daarbinne met vermoedelik ’n jaggeweer deur die hart geskiet.
Paul Johnson (52) van die Winburg-Apteek se selfmoord kom sowat twee weke nadat hy weens beweerde dronkbestuur op die dorp in hegtenis geneem is. Hy het reeds in die landdroshof hier verskyn en is op waarskuwing vrygelaat.
Johnson se dood het skokgolwe deur die dorp gestuur. Hy was die enigste apteker hier.
Inwoners met wie Volksblad Maandag gepraat het, was hartseer en sê dié treurspel is ’n geweldige skok en slag vir die gemeenskap.
Sy vrou, Martlé, ’n kleuterskoolonderwyseres op Winburg, en hul twee volwasse kinders, Matt en Lara, kon nie gister vir kommentaar bereik word nie.
Of Johnson ’n selfmoordbrief gelos het, kon gister nie bevestig word nie.
Kapt. Harry Nagel, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, sê wel daar is geen selfmoordbrief by hom in die apteek gevind nie.
Dit is ook nog nie bekend of Johnson se selfmoord verband hou met sy botsing met die gereg nie.
Nagel sê die polisie het Sondag omstreeks 17:30 ’n oproep ontvang dat Johnson homself in die apteek geskiet het. ’n Inwoner wat in die omgewing van die apteek was, het die polisie gebel.
Die apteek is nie op Sondae oop nie.
“Ons weet nog nie hoekom hy homself geskiet het nie. ’n Geregtelike doodsondersoek sal gedoen word,” sê Nagel.
Johnson en Thabo Lesole het ongeveer twee weke gelede in Voortrekkerstraat, die hoofstraat, gebots.
Kapt. Rulene Kühn, ’n polisiewoordvoerder, het gesê nie een van die twee mans is in dié motorbotsing naby die Caltex-vulstasie beseer nie.
Die omstandighede op die ongelukstoneel het die polisie genoop om bloed van albei mans te laat trek en albei weens dronkbestuur aan te kla.
Die hofverrigtinge op 14 September is op versoek van Jean Retief, aanklaer, tot 5 Desember uitgestel vir verdere ondersoek en in afwagting op die bloedverslae.
Lesole is ’n werknemer van ’n padkontrakteur.
Johnson se begrafnisdiens is Saterdag om 10:30 in die NG kerk Rietfontein op Winburg.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad