Apartheid-regering het mense mislei – Zuma
2010-03-30 22:35
Pretoria - Pres. Jacob Zuma het gesê die vorige regering het mense in die apartheid-era laat glo daar is nie arm blankes nie.
"Die vorige regering wou nie erken dat daar witmense is was arm was nie. Dit was sielkunde en propaganda," het Zuma aan honderde mense by die Bethlehem-informele nedersetting in Pretoria-Wes gesê waar 'n arm Afrikaner-gemeenskap woon.
Zuma het gesê sy eerste besoek aan dié gebied in 2008 het baie Suid-Afrikaners se oë oopgemaak wat verstom was dat arm wit gemeenskappe bestaan.
"Mense het vir die eerste keer gesien daar is arm witmense," het hy gesê.
Hy het gesê dit was die regering se plig om te verseker dat dienste aan alle Suid-Afrikaners verskaf word.
Zuma het gesê hy is gelukkig dat sy besoek met die kabinet dae voor Paasfees-vieringe is.
"Vir die armes, is die opoffering nie beperk tot die maand van Lent nie, maar is 'n kruis wat hulle daagliks moet dra."
Sommige kommernisse wat tydens Zuma se vorige besoek gelug is, is behuising, water, elektrisiteit en probleme met die registrasie vir regeringstoelae.
Tente is Dinsdag opgerig waar diegene wat kwalifiseer vir regeringstoelae, kan registreer.
Dr. Gwen Ramokgopa, burgemeester van die Tshwane-metroraad, en Nomvula Mokonyane, premier van Gauteng, het ook die mense toegespreek en beloof om die nodige dienste aan hulle te verskaf.
Zuma het potjiekos by een van die huise geëet voor hy weg is.
– Sapa