Apartheid leef voort in onderwys, sê Vavi
2012-07-08 23:00
Johannesburg – Apartheid sal nie verby wees nie en swart mense sal nie regtig vryheid ervaar tot gratis, hoë-gehalte onderwys 'n werklikheid word nie, het Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van Cosatu, Sondag gesê.
"Onderwys is beslis nie gratis en gelyk vir almal nie, ons het groot ongelykheid in ons voorsiening van onderwys."
Vavi het gepraat by die Gelyke Onderwys-beraad in Tembisa, noord van Kempton Park.
"Na 18 jaar van demokrasie reproduseer ons onderwysstelsel steeds rasse- en klasongelykhede oor en oor... die stryd vir die transformasie van ons onderwys en onderrig is lank nie verby nie," het Vavi gesê.
Hy het ook gesê soortgelyke ongelykheid kom voor in gesondheidsorg, openbare vervoer, behuising en alle basiese dienste.
Vavi het gesê die handboekskandaal in Limpopo is 'n teken dat die land se onderwysstelsel steeds wanfunksioneel is.
"Slegs sewe persent van skole het biblioteke, slegs vyf persent het wetenskaplaboratoriums met voorraad en net een persent van skole het internettoegang," het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA