Apartheid is terug, sê FW in Nederland
2010-12-10 06:51
Die Burger
Den Haag – Suid-Afrikaanse wittes is nou die slagoffer van rassediskriminasie.
Dié boodskap is gister deur oudpres. F.W. de Klerk in ’n onderhoud met die Nederlandse dagblad De Persoorgedra. De Klerk was pas in Nederland om ’n lesing te gee.
Die onderhoud was die hoofberig op die koerant se voorblad, saam met ’n groot foto van De Klerk, onder die opskrif “Apartheid is terug”.
In die onderhoud het De Klerk reguit gesê: “Daar is sprake van onaanvaarbare rassediskriminasie in Suid-Afrika.” Wittes is die slagoffer van “ongebalanseerde” regstellende aksie, met die gevolg dat baie wittes dit moeilik vind om werk te kry.
In die oë van baie wittes is dit ’n nuwe vorm van rassediskriminasie. “Dit het ongebalanseerd gebeur. Te veel swartes het poste gekry waarvoor hulle nie die regte opleiding of ervaring het nie. Selfs die regerende party, die ANC, erken nou blykbaar dat groot foute gemaak is.”
In antwoord op die vraag wat die rol van Nederland met sy historiese bande met Afrikaners moet wees, was De Klerk se antwoord dat baie wittes meen “dat die Westerse lande, wat altyd voorgeloop het om Suid-Afrika weens apartheid te kritiseer, nou ook kennis moet neem van die sake wat verkeerd loop in Suid-Afrika. Die Westerlinge moet met dieselfde energie en oortuiging protesteer teen nuwe vorms van ongeregtigheid in ons land.”
De Klerk het gesê die bande tussen Nederland en Suid-Afrika kan verstewig word: “Nederlanders en Vlaminge moet met trots na Afrikaans kyk en die taal as volwaardige lid by die Nederlandse taalgemeenskap betrek.”
Hy is nie bang dat onluste uitbreek wanneer oudpres. Nelson Mandela sterf nie. “Dit sal eerder ’n oomblik vorm waarop Suid-Afrikaners weer aanleiding sien om saam skouer aan die wiel te sit.”
Hy het Mandela laas by die Wêreldbeker-sokkertoernooi gesien. Ofskoon die Wêreldbeker-toernooi “’n gevoel van eenheid” teweeggebring het, het “ons in sekere sin daarna weer in ou gewoontes teruggeval”.
“Maar ons het aan die wêreld bewys dat ons so ’n groot gebeurtenis kan organiseer. Nou wil ons die Olimpiese Spele organiseer.”
De Klerk het gesê hy het begrip vir wit angste na aanleiding van plaasmoorde. “Maar as dit oor misdaad gaan, dink ek alle Suid-Afrikaners het las daarvan. Misdaad tref hier almal.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger