Anker tref man toe boot op walvis beland
2010-09-13 15:06
Kaapstad – ‘n Visserman is deur ‘n anker in die gesig getref nadat ‘n boot ‘n walvis op die kus van Kaapstad getref het, het plaaslike media Maandag berig.
“Ons was sowat 400 meter van die kus en daar was geen teken van ‘n walvis nie, dit het net uit die bloute verskyn. Ons het net skielik ‘n stamp gevoel en toe tref ons dit,” het kaptein Taliep Fester aan die Cape Times gesê.
“Toe ons dit tref het die anker voor uitgehop en die man teen die kakebeen getref. Hy het gebloei,” het Fester gesê en bygevoeg dat geen skade aan die boot aangerig is nie.
“Hy is nou reg, maar dit was ‘n groot skok.”
“Ons het die walvis eers gesien toe ons bo-op dit was. As jy in ‘n walvis vasry is dit soos om ‘n rots te tref. As hy opgekom het sou die boot omgeslaan het.”
Die man is na ‘n hospitaal geneem nadat die boot in die hawe anker gegooi het.
Die boot het vroeg Sondagoggend van naby Simonstad vertrek.
Volgens die eienaar van die boot het die man uit sy ore gebloei as gevolg van die “hengse hou” op sy ken,
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA