Angus wil preek in Soccer City
2010-07-13 16:39
Neels Jackson
Toe hy Soccer City Sondagaand so stampvol mense sien, het hy gedink hoe wonderlik dit sou wees as die stadion so vol mense sou wees wat God se aangesig soek.
So gesels Angus Buchan, Greytownse evangelis.
Buchan het lank reeds die versugting uitgespreek om eendag in ’n vol stadion in Soweto te preek.
Nou praat hy nie meer van eendag nie. Hy praat van volgende jaar en hy praat van Soccer City.
Sy onlangse besoek aan Ierland het dié begeerte net versterk.
Hy vertel dat hy in Noord-Ierland, naby die grens van die Ierse Republiek, in ’n perdesportsentrum gepreek het.
Die Iere is volgens Buchan plattelanders wat min emosie toon. Boonop is daar al geslagte lank onmin en stryd tussen Protestante en Katolieke.
Mense uit dié vyandige agtergronde het saam in sy dienste gesit. “Dis asof Eugène Terre’Blanche en Julius Malema saam is,” het
Buchan verduidelik.
Hy was verstom oor die emosies wat veral die tweede en derde aand losgekom het.
“Mense het soos gewonde diere gehuil.”
Toe hy in ’n stadium vra of daar gebedsversoeke is, het ’n vrou in die middel van die saal uitgeroep: “Ons wil vrede hê!”
Buchan sê dis ’n universele versugting.
Die manier om vrede te vind, is om die Prins van Vrede, Jesus Christus, te ontmoet.
En, het hy by homself gedink, as dit in Ierland kan gebeur, hoekom nie in Suid-Afrika nie?
Hy wil in Soccer City gaan preek en ’n boodskap van versoening bring. Dit is sy hartsbegeerte, sê Buchan.
Daar is nog nie konkrete planne vir so ’n byeenkoms nie, maar Buchan sê hy begin aan konkrete planne dink.
Daar is baie mense wat met hom wil saamspan om so iets te reël.
Dis op sy agenda vir volgende jaar en hy glo dit gaan gebeur.
- Beeld