Angie hoop op 70%-slaagsyfer
2011-12-02 08:00
Pretoria – As Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se hoop bewaarheid word, sal vanjaar se matriekslaagsyfer tot 70% styg.
Motshekga het Donderdag in ’n onderhoud gesê sy is verheug dat die eindeksamen sonder groot probleme en die uitlek van vraestelle gepaardgegaan het.
“Ons het weer bewys dat die eksamen jaar op jaar verbeter.”
Die eindeksamen is gister met die laaste vraestel in godsdienswetenskappe afgesluit. Sowat 35 000 nasieners landwyd het met die nasientaak begin, wat teen 15 Desember afgehandel word.
Motshekga het Donderdag die onderwysfront die afgelope jaar in oënskou geneem. Sy het gesê die stelsel is aan’t stabiliseer, maar daar is steeds reuse-uitdagings.
Sy het die afhandeling van die kurrikulum- en assesseringsbeleidverklarings (Caps), wat onderwysers voortaan beter sal toerus oor wat hulle moet onderrig en assesseer, as ’n hoogtepunt uitgesonder. Die Caps word volgende jaar vir die grondslagfase (gr. 1 – gr. 3) en gr. 10 in werking gestel. Die ander grade sal in 2013 en 2014 aan die beurt kom.
Motshekga het gesê sy sal binnekort ’n strategie vir vroeë kinderontwikkeling aankondig. Een van die uitdagings is die verskil in kwalifikasies van onderwysers wat gr.?0 in skole onderrig en dié wat as praktisyns in gemeenskapsentrums vir kinderontwikkeling werk.
Nóg ’n uitdaging is toegang tot onderrig en die verskil in onderrig-gehalte wat kinders kry.
Volgens haar het 80% van leerlinge wat vanjaar in gr. 1 was laas jaar ’n skool of sentrum bygewoon waar hulle in gr. 0 was.
Oor die kwessie om onderwysers se vergoeding aan leerlinge se prestasie te koppel, het Motshekga gesê dit is nie haalbaar nie, maar daar moet na maniere gekyk word oor hoe onderwysamptenare op alle vlakke verantwoordbaar gehou kan word.
Sy het verwys na prestasiekontrakte wat hoofde reeds in Gauteng onderteken.
Op ’n vraag oor die groot ongelykhede in die stelsel het Motshekga gesê die dilemma is dat armes die swakste diens kry. Die regering respekteer nie armes se regte nie en hanteer hulle nie met waardigheid nie. Sy het gesê die fokus gaan volgende jaar op dienste vir die armes val.
Oor die probleme in sekere provinsies waar staatsubsidies tot nou toe nie aan skole oorbetaal is nie, het sy gesê die minister van finansies het ingegryp in die onderwysdepartement in Limpopo waar kontantvloeiprobleme is. In KwaZulu-Natal was wanadministrasie vir die probleem verantwoordelik.
Op ’n vraag oor wat die departement se reaksie op die onlangse verslag van die eenheid vir onderwys-evaluering en -ontwikkeling (Needu) is, het sy gesê die departement verwelkom ’n onafhanklike liggaam se insette.
Needu het onlangs daarop gewys dat probleme met onderwysers grootliks vir onderprestasie in talle skole verantwoordelik is.
“Met Needu se verslae kan ek nou na ’n LUR gaan en sê: Jy het gesê handboeke is by jou skole afgelewer, maar Needu se ondersoek het gewys skole is steeds sonder handboeke.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld