Anene: Man ontken moord, verkragting
2013-02-26 13:08
Bredasdorp – Jonathan Davids het onskuldig gepleit op aanklagte dat hy Anene Booysen van Bredasdorp verkrag en vermoor het.
Die 22-jarige Davids, wat in 'n grys baadjie en denimbroek geklee was, het Dinsdag in die Bredasdorp-landdroshof sy weergawe gegee van die gebeure toe die 17-jarige Anene aangeval is.
Anene is op 1 Februarie verkrag, vermink en vir dood gelaat nadat sy 'n kuierplek op die dorp besoek het. 'n Sekuriteitswag het die volgende oggend by die Asla Magwebu-bouterrein, waar sy gewerk het, op haar afgekom. Sy het dieselfde aand in die hospitaal gesterf.
Davids het in sy borgtogaansoek getuig en sy medebeskuldigde, Johannes Kana (21), sal na verwagting in 'n latere stadium om borgtog aansoek doen.
Davids het gesê hy was die betrokke aand by dieselfde kuierplek as Anene. Hy het haar omstreeks 22:00 gegroet en het tot middernag gebly toe hy die plek saam met twee manlike en twee vroulike vriende verlaat het.
Hulle het wyn op 'n ander plek gekoop, dit huis toe geneem, gedrink en gaan slaap.
Die hof het gehoor dat hy al lewenslank op die dorp woon, ongetroud is en geen kinders het nie.
Davids se ma het in 2003 gesterf en hy het nie sy pa geken nie. Hy het nie 'n vaste adres nie en verdien sowat R1 500 per maand deur blomme te verkoop.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA