Amptenare se reis na VSA kos meer as R500 000
2010-12-09 07:01
Die Burger
Kaapstad - Vyf amptenare van die departement van vroue, kinders en mense met gestremdhede het vroeër vanjaar teen ’n koste van R548 123 na New York gereis om ’n konferensie by te woon.
Dié amptenare het Noluthando Mayende-Sibiya, die voormalige minister van vroue, kinders en mense met gestremdhede, tussen 31 Augustus en 5 September na ’n konferensie oor die regte van mense met gestremdhede vergesel.
Dit is nie bekend hoeveel Mayende-Sibiya se reiskoste beloop het nie. Sy het haar pos verloor toe pres. Jacob Zuma sy kabinet op 31 Oktober geskommel het.
Die koste van die vlugte en die hotelverblyf vir die vyf amptenare se reis na New York het onderskeidelik R45 4001 en R941 21 beloop.
Dié inligting het gister geblyk uit ’n antwoord op ’n parlementêre vraag deur me. Denise Robinson, DA-LP. Sy wou weet hoeveel geld die departement aan reise vir amptenare bestee het en hoeveel dit gekos het.
Volgens die antwoord het Suid-Afrika op die New York-vergadering inligting oor beleid, programme en evalueringsmaatreëls uitgeruil oor hoe om die “volle en gelyke deelname” van mense met gestremdhede te bevorder. Mayende-Sibiya was ’n medevoorsitter van een van die sessies.
Twee amptenare het ook tussen 1 en 15 Maart teen ’n koste van R284000 na New York gereis om die vyftienjaar-oorsig van die Beijing Platform vir Aksie-ooreenkoms by te woon.
Een amptenaar het ’n Statebond-vergadering in Barbados teen R280 000 bygewoon.
) Spyseniering en “vervoer en mobilisasie” vir die amptelike Vrouedagvieringe in Augustus het die belastingbetaler gesamentlik meer as R4 miljoen gekos.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger