Amptenare betaal nie skoolgeld
2009-10-20 17:45
Chantelle Nicholas
Kaapstad – Slegs 62% van leerders wat die Acacia Park primêre skool in die Wes-Kaap bywoon, betaal hul skoolfooie.
Dít was die skok onthulling wat die Demokratiese Alliansie (DA) Dinsdagmiddag by die Wes-Kaapse Wetgewing gemaak het.
Volgens Junita Kloppers-Lourens, DA-LP vir basiese onderwys, is dit veral lede van die parlement wie se kinders by Acacia Park skoolgaan, en ook dié van verskeie afdelings in die publieke sektor.
Kloppers-Lourens voer aan dat dié individue is welaf, en word elk ‘n aardige bedraggie maandeliks betaal.
“Die feit dat hulle versuim om die maandelikse skoolfooi van R350 te betaal, is skokkend. Dié bedrag sal nie eens ‘n duik in hul salarisse maak nie.”
Die DA het onderneem om ‘n skriftelike versoek aan die minister van publieke werke te rig, omdat hulle verantwoordelik is vir die Acacia Park kompleks asook die skool.
“Lede van die parlement asook beamptes wie hulself skuldig maak aan die versuiming om die skoolfooie te betaal, sal ook in die skriftelike versoek genoem word,” het sy gesê.
Slegs ‘n handjievol van die skool se leerders kom uit ‘n nabye informele nedersetting, en hulle het om kwytskelding van skoolfooie aansoek gedoen.
“Van die ouers wat hulself skuldig maak deur te versuim om hul kinders se skoolfooie te betaal, het sedert die begin van die jaar nog nie ‘n sent aan die skool betaal nie.”