Amptenaar spandeer staatsgeld op eie huis
2012-03-18 13:35
Johannesburg – Die sekretaris van die parlement, Zingile Dingani, het van die parlement se geld op sy eie huis spandeer, het die Sunday Times berig.
Dingani het R186 000 van parlementêre fondse gebruik om ‘n grensmuur by sy huis in Panorama, Kaapstad, te bou, het hy deur woordvoerder Luzuko Jacobs aan die koerant bevestig.
“’n Assessering is gedoen op die basis van ‘n reeks veiligheidsoortredings by die huis... Hierdie assessering is deur die staat se sekuriteitsagentskappe gedoen... Die werk wat gedoen is, is in reaksie op, en gebaseer op, die voorstelle deur die verskeie verslae wat ingehandig is as deel van hul assessering,” het Jacobs gesê.
In 2009 tydens ‘n senior bestuursvergadering waar Dingani die voorsitter was, is daar ingestem dat finansiële bystand, insluitende lenings, aan parlementêre werkers gestaak sal word.
“Geen verdere voorskotte op salarisse sal aan werknemers gegee word nie,” het die koerant berig en uit die notules van die vergadering aangehaal.
Dingani, wat R1,8 miljoen ‘n jaar verdien, was veronderstel om die geld teen R10 000 ‘n maand af te betaal, maar Desember se betaling is aan hom terugbesorg.
Jacobs het aan die koerant gesê die transaksie is deur die parlement goedgekeur.
Dingani sal ‘n voorskot ontvang op die voorwaarde dat hy dit terugbetaal, het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA