Amptenaar: Zuma, ek wil nie langer leeglê by die werk
2010-01-21 12:06
Charles Smith
Bloemfontein - ’n Amptenaar van die Vrystaatse departement van onderwys wat al sewe jaar niks doen nie, het in ’n hartroerende brief pres. Jacob Zuma gevra om haar gedwonge leeglêery te stop.
Maryna Jacobs (37), ’n senior boekhouer met 18 jaar diens, skryf aan Zuma dat sy van haar pligte onthef is.
Elke dag sit sy en koerant lees, want geen bestuurder praat met haar nie.
“Dit is lekker om vir ’n tydjie niks te doen nie. Maar dit hou al sewe jaar aan. Dit is onaanvaarbaar,” skryf sy aan die president.
Een van die min kere wat sy wel ’n taak gegee is, was toe sy beveel is om ’n adjunk-direkteur se meubels te skuif. Sy het geweier.
Jacobs sê sy is ook Woensdag gevra om die begroting op te stel.
Dit het sy al twee jaar gelede gedoen.
Soms speel sy handsokker in die kantoor wat die aankope van skoolboeke doen.
Soms gaan ry sy vir ’n uur met haar bakkie deur die strate om van haar frustrasie ontslae te raak.
Sy waarsku Zuma sy het ’n klag van aanranding teen haar, maar dit is weens frustrasie.
Jacobs vra nou dat Zuma haar heraanstel in die pos waarin sy moet wees óf verplaas na ’n instansie waar sy wel van nut kan wees.
Sy sê sedert sy tenderbedrog aan die teenkorrupsie-eenheid uitgewys het, word sy doodgeswyg. Volgens haar was sy nie bereid om ’n medepligtige aan die bedrog te wees nie.
“Hulle wil hê ek moet self bedank, maar ek weier. Anders moet hulle my ’n skeidingspakket aanbied, maar dit wil hulle nie doen nie.”
Sy het gesê die enigste persoon wat haar nou kan help, is Zuma. “Hulle maak die wêreld so moeilik en warm dat ek moet bedank.”
Sy skryf sy is in 2003 van haar pligte onthef. P. Mohoje, die adjunk-direkteur, het besluit “my brein is beskadig nadat ek my regterbeen gebreek het” en haar pligbeskrywing en salaris is tot dié van ’n vlak 4-5-klerk afgeskuif.
Sedertdien het haar gesondheid so vinnig agteruitgegaan soos haar werklading afgeneem het.
Sy moet soms inbetaal op haar siekefondseise.
Mense het haar al as “mal” afgemaak, maar sy het baie tyd om al die Staatsdienswette te bestudeer en het hulle gewaarsku.
“Ek het nog 20 jaar om te gaan. Dis nog 20 jaar om niks te doen nie.”
- Jacobs het die brief aan Zuma by president@po.gov.za gerig en ook aan Jan Botes in die kantoor van Ace Magashule, die Vrystaatse premier, en Tate Makgoe, die LUR vir onderwys.
- Volksblad