Amplats soek oplossings
2013-01-18 13:55
Johannesburg – Anglo Platinum sê hy sal oor die volgende 90 dae sy herstruktureringsproses met Susan Shabangu, minister van mynwese, en ander rolspelers bespreek, het EWN berig.
Werknemers, vakbonde en die minister het uitgevaar teen die platinum-produsent nadat hy vroeër die week aangekondig het dat hy 14 000 van sy werkers in die pad moet steek.
Intussen sal die mynwerkersvakbond Amcu die naweek met lede van Amplats vergader om hul pad vorentoe te bespreek.
Sapa berig Shabangu het ná die mynmaatskappy se aankondiging gesê die myn se uitvoerende hoof, Chris Griffiths, is arrogant omdat hy nie die regering geraadpleeg het nie.
“Luister hierna; die arrogansie van Chris. Hy het in sy verklaring gesê hy gaan met arbeid praat. En hy gaan nie met die regering praat nie. Hy gaan nie met ons as die reguleerder praat nie... los die regering uit? Wel, ons het prosedures wat ons moet volg,” het die minister in ‘n onderhoud met SAfm gesê.
Die nuusagentskap het berig Shabangu het in die onderhoud gesê die mynmaatskappy is besig om die Wet op die Ontwikkeling van Mineraal- en Petroleum-hulpbronne te oortree.
Volg Nuus24 op Twitter