Amplats sê binnekort oor werke
2013-01-26 11:00
Johannesburg – ‘n Amptelike aankondiging oor of gesprekke rakende Anglo American Platinum (Amplats) se beplande afdanking van byna 14 000 mynwerkers daarin kon slaag om werke te spaar, sal Maandag gemaak word, het The Saturday Star berig.
Die vergadering volg op gesprekke wat Donderdag tussen die maatskappy en Susan Shabangu, die minister van minerale hulpbronne, plaasgevind het.
“Verskeie voorstelle is gemaak oor ‘n paar intervensies,” het Zingaphi Jakuja, woordvoerder van die departement van minerale hulpbronne, gesê.
“Amplats is ruimte gegee om intern hieroor te konsulteer en ‘n formele aankondiging sal Maandag deur belanghebbendes gemaak word.”
Amplats het geweier om kommentaar aan die koerant te lewer oor die vergadering.
Amplats het vroeër in Januarie gesê hy beplan herstrukturering wat kan lei tot die afdanking van 14 000 werkers.
Sowat 13 000 van hulle is van Rustenburg in die Noordwes.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA