Amor se hart "uitgeruk"
2009-11-05 09:18
Kaapstad – Die sangeres Amor Vittone sê haar hart is “uitgeruk” en dit voel of haar “laaste bietjie energie” weg is.
“Daar is woede en ’n ontsettende teleurstelling in my hart. As alles in die begin uitgekom het (dat dit Joost in die seksvideo is), sou dit baie beter gewees het.”
’n Baie hartseer Vittone het gister haar stilswye van sowat agt maande verbreek teenoor Darren Scott op Jacaranda 94.2 se program Just Plain Breakfast .
Op die vraag wat haar kop vir haar gesê het voordat Joost haar in Augustus vertel het dit is hy in die video, het sy gesê: “My instink het aanhou sê: ‘Kyk verder, kyk verder.’ Ek het hom elke dag ( sowat agt maande lank) gevra; ‘Joost, is jy seker dit is nie jy in die video nie?”
Vittone het gesê haar man het hom in ’n “web van leuens” vasgedraai. “Hy het gedink hy kan uit die situasie kom.”
Vittone het gesê die aand toe Joost aan haar gebieg het terwyl sy besig was om kos te maak, het sy hom net aangekyk.
“Ek het drie dae lank nie met hom gepraat nie. Ek was in dié dae nie ’n ma nie. Ek weet nie waar ek was nie. Dit was die eensaamste tyd in my lewe. My ma-hulle was in Kanada en die man met wie ek getroud is, was nie daar nie.”
Vittone het vertel kort nadat die video-sage losgebars het, het dokters uitgevind hul seun Jordan (5) het net 20% gehoor in die een oor en 40% in die ander.
“Dit was vir my nog erger (as die video-sage). Hoekom ook dit?”
Vittone het gesê sy het al “gevaarligte” gesien toe sy, Joost en haar ouers die afgelope drie jaar verskeie kere dreigemente ontvang het. Sy meen dieselfde mense wat hulle gedreig het, het die seksvideo verkoop.
Vittone het gesê dit is “só onwaar” dat haar ouers haar gevra het om van Joost te skei.
Sy het ook gesê hoewel sy daaraan gedink het dat hulle dalk ’n bietjie tyd weg van mekaar moet deurbring, is dit nie waar dat sy hom gevra het om uit te trek nie.
“Ek voel ek is in die steek gelaat, maar ek is wel jammer vir hom. Ek is tog lief vir hom. Maar ek is liggaamlik en geestelik moeg.
“Ek weet eerlikwaar nie of alles weer 100% reg gaan wees nie. Maar ek is bereid om 110% te gee.
“Daar is nog baie om voor dankbaar te wees. Die lewe is só kort.”
- Die Burger