Amor bieg oor ‘sexy’ Kanadees
2010-08-15 06:16
Gavin Prins
Johannesburg - “Dit was net ’n flirtasie”.
So het Amor Vittone Saterdag teenoor Rapport gebieg oor die “verhouding” wat Joost van der Westhuizen laat besluit het om haar te dagvaar om ’n egskeiding.
Amor sê sy en die “sexy” Chris, ’n getroude Kanadees, het niks meer gedoen as soet woordjies uitruil nie.
Rapport kan ook eksklusief onthul dat Amor ingevolge die gesinsgeweldwet ’n beskermingsbevel teen Joost verkry het.
Amor sê sy het ’n skynverhouding met Chris gehad.
Sy het hom ontmoet toe sy en haar twee kinders by haar suster in Kanada gekuier het.
Sy vertel dat sy tydens ’n braai daar gesê het sy vermoed haar vervreemde man ondersoek haar.
“My swaer, Michael Agrette, is ’n groot poetsbakker. Hy het gesê hy glo nie Joost sal dit doen nie en het voorgestel dat ek per e-pos ’n bietjie met iemand flankeer.
“Hy het gesê kies vir jou ’n sexy man. Toe kies ek vir Chris. Ek het dit gedoen. Ons het begin e-posse stuur.”
In die e-posse, wat begin het nadat Amor terug was in Suid-Afrika, het Chris onder meer vir haar gesê: “Goeienag, jou mooi ding.”
“Ek het ook in ’n e-pos belowe om vir hom ’n James Blunt-CD te koop omdat ons albei van die liedjie You’re Beautiful hou.”
Amor sê: “Dit was net flirtasie. Niks seksueel nie.”
Maar toe ruk dinge handuit.
“Toe Joost twee weke gelede met ’n groot lêer na my toe kom en dit oopmaak, was ek geskok. In die lêer was al my selfoonstate en e-posse tussen my en Chris.”
Joost het haar gekonfronteer oor die e-posse.
“Toe besef ek dit was wel Joost wat my ondersoek het. In die verlede het ek dreigoproepe gekry en briewe van iemand wat sê hulle hou my dop.”
Hierna het Joost haar om ’n egskeiding gedagvaar.
“Ek besef nou dit was verkeerd om Joost uit te vang,” sê Amor.
Sy en haar prokureur, mnr. Claudio Bollo, wou gister nie die inhoud van haar beskermingsbevel teen Joost bespreek nie.
Robert Klinkenberg, Joost se prokureur, het gesê: “Ons gaan Woensdag ’n aansoek in die hof bring dat die bevel opgehef word.”
Joost loop glo nou met die sogenaamde Amor-lêer onder die arm. Die vermoede is dat hy dit in hul egskeidingsgeding gaan openbaar maak.
Amor sê sy het haar korrespondensie met Chris verbreek.
“Ek weet nie waaroor die bohaai gaan oor die derde party nie. Ek is ’n enkellopende vrou wat seker maar kan flankeer met wie ek wil. Dit was ’n grap.
Ek het nie seks met enige mens nie. Dis nie in my karakter nie.”
Die paartjie se huwelik het begin verbrokkel nadat die Joost-seksvideo verlede jaar die lig gesien het. In die openbaar het die paartjie onlangs voorgegee hulle is weer bymekaar. Maar Amor het gister bevestig: “Ek en Joost is al sedert Mei uit.”
- Rapport