Amerikaners in SA hospitaal ná ontploffings
2010-07-14 16:04
Johannesburg – Twee Amerikaners, wat beseer is tydens die bomontploffings in Uganda gedurende die eindstryd van die Wêreldbeker-sokkertoernooi, is in ‘n kritieke toestand in ‘n privaat-hospitaal in Johannesburg, het paramedici Woensdag gesê.
“Die pasiënte is in ‘n kritieke maar stabiele toestand. Hulle is Dinsdag per lugambulans na die Milpark-hospitaal vervoer,” het dr. Fraser Lamond, mediese streeksdirekteur van die Internasionale SOS-reddingsdiens (Isos), gesê.
“Soos ek verstaan moes die pasiënte noodoperasies ondergaan,” het Lamond gesê.
Die Isos is deur hulle Amerikaanse eweknie aangesê om die beseerdes in Kampala op te laai.
Volgens Lamond het die twee persone verskeie beserings opgedoen insluitende verskeie beenbreuke.
Die Times-koerant het die slagoffers as Emily Kerstetter en haar ouma, Joanne, geïdentifiseer. Beide is glo sendelinge vir ‘n Amerikaanse kerk.
Die ontploffings het Sondag deur skares sokkergeesdriftiges geruk tydens die eindstryd van die Wêreldbeker-sokkertoernooi by ‘n kroeg en ‘n restaurant in Kampala. Ses-en-sewentig persone het gesterf en verskeie ander is beseer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP