Ambulansmanne gryp koperkabels
2010-01-28 13:48
Johannesburg – Twee lede van die paramedici in Sekunda, Mpumalanga is Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle koperkabels ter waarde van R57 000 in hul ambulans vervoer het, het die polisie gesê.
“Die twee beamptes van die Leandra-hospitaal het die ambulans na Sywerfontein-myn geneem waar hulle ander koperkabeldiewe ontmoet het,” het kapt. Leonard Hlathi gesê.
Die groep het die koperkabels in die ambulans gepak, terwyl die ambulans met loeiende sirenes weggery het, asof hulle ‘n pasiënt vervoer.
Die polisie, wat op ‘n wenk vanuit die publiek gereageer het, het die ambulans gestop, en dit vol koperkabels gevind.
“Daar was nie eens spasie in die ambulans om ‘n kind te akkomodeer nie, so vol was dit gepak,” het hy gesê.
- Sapa