Ambulans by Selebi se huis
2011-12-02 12:08
Johannesburg – Oomblikke nadat hy die nuus van sy mislukte appèlaansoek ontvang het, het Jackie Selebi, voormalige nasionale polisiehoof, in mekaar gesak.
Wynanda Coetzee, Selebi se prokureur, het aan Eyewitness News gesê Selebi het nie die nuus goed hanteer nie.
"Ons is baie bekommerd oor hom," het sy gesê.
'n Ambulans het omstreeks 12:00 by sy huis in Waterkloof, Pretoria, opgedaag.
Hy het vroegoggend gaste buite sy huis gegroet, maar is nie weer later gesien nie.
Selebi is op ‘n draagbaar in die ambulans gelaai en na die Jakaranda-hospitaal geneem sonder enige loeiende sirenes, berig Beeld.
Sy se aansoek om appèl teen sy skuldigbevinding is Vrydag in die appèlhof in Bloemfontein verwerp.
Regter Kenneth Mthiyane het gesê regter Meyer Joffe se beslissing is "versigtig oorweeg". Die appèlhof het ook die beslissing van die hooggeregshof aanvaar.
Al vyf regters het saamgestem oor die beslissing.
Selebi het nie toestemming gekry om teen sy vonnis van 15 jaar in die hooggeregshof appèl aan te teken nie. Hy kon net appelleer op twee beperkte vrae: of daar ’n korrupte verhouding tussen hom en die omstrede Glenn Agliotti was, en of hy (Selebi) deur Agliotti vergoed is in die proses van korrupsie.
Selebi moet binne 48 uur by korrektiewe dienste in Johannesburg aanmeld om sy 15 jaar tronkstraf te begin.
– Volg Nuus24 op Twitter