Altesaam 37 Gautengse jaers vas
2012-06-17 19:03
Johannesburg – Altesaam 37 Gautengse motoriste is oor die naweek vir jaery in hegtenis geneem, het die Gautengse verkeerspolisie Sondag gesê.
Busaphi Nxumalu, woordvoerder, het gesê agt mense is Sondagoggend op die R21 in hegtenis geneem.
Sy het gesê ‘n 42-jarige maatskaplike werker wat met ‘n wit Lexus gery het, is gevang waar hy teen ‘n gemiddelde spoed van 224 km/h gery het in ‘n 120 km/h-sone.
“Die maatskaplike werker van die Ekurhuleni-munisipaliteit het beweer hy was op pad na die kantoor om ‘n sekere dokument van sy werkgewer te kry.”
Nxumalu het gesê die agt wat in hegtenis geneem is, word aangekla van roekelose bestuur, jaery en dronkbestuur.
Hulle sal Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn.
Supt. Wayne Minnaar het intussen gesê beamptes van die Johannesburgse metropolisie wat op patrollie was, het tussen Vrydag middernag en Saterdag middernag altesaam 29 motoriste wat gejaag het vasgetrek.
“’n Ses-en-twintig-jarige man is Vrydag gevang waar hy teen 250 km/h gery het met sy swart Audi. Hy word aangekla van jaery en dronkbestuur.”
Minnaar het gesê die 29 wat in hegtenis geneem is, sal Maandag in die Johannesburg-landdroshof verskyn.
Hy het gewaarsku dat motoriste wat teen ‘n hoë spoed op snelweë ry, gevang sal word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA