Almal moet help in 2011, vra Zuma
2011-01-01 07:59
Johannesburg - Die regering sal hard werk – met die ondersteuning van alle Suid-Afrikaanse burgers – om te verseker dat die lesse wat uit die Sokkerwêreldbeker geleer is sal help om dienslewering te verbeter, het pres. Jacob Zuma Vrydag in sy Nuwejaarsboodskap aan die land gesê.
"Hierdie was die jaar van die 20ste herdenking van Nelson Mandela se vrylating uit die tronk en die wettiging van bevrydingsbewegings, wat uiteindelik gelei het tot 'n vry Suid-Afrika."
"2010 is ook vir alle Suid-Afrikaners sinoniem met die 2010 FIFA-wêreldbekertoernooi – een van die grootste en mees suksesvolle internasionale projekte wat ons al ooit bestuur het in die land se 16 jaar van vryheid," het hy gesê.
Zuma het die land bedank vir die "fenomenale sukses van die eerste FIFA-wêreldbekertoernooi op die Afrika-kontinent.
"Ons moet voortbou op die positiewe gees wat toe geheers het, en verseker dat die sosiale kohesie, samesyn en patriotisme wat daar was deel word van ons samelewing.
"Ons kan nie die manier waarop die regering werk verander sonder julle hulp en ondersteuning as burgers nie. Ons bedank julle dus vir julle voorstelle, komplimente en klagtes in 2010," het Zuma gesê.
Zuma het sy boodskap aan die land ook op 'n positiewe noot afgesluit.
"Vriende, namens die regering wens ek julle blydskap, sukses en voorspoed toe in 2011," het Zuma gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA