'Almal moet by hospitale deursoek word'
2011-06-08 15:31
Johannesburg – Sekuriteitswagte moet almal wat 'n staatsinstansie, insluitend hospitale, betree, deursoek om te verseker dat hulle nie wapens het nie, het die departement van veiligheid en sekuriteit in Mpumalanga Woensdag gesê.
"Toegangsbeheer by die hospitale is die plig van sekuriteitswagte en hulle moet seker maak dat die mense wat die fasiliteite besoek, word deursoek om seker te maak almal is veilig," het Vusi Shongwe, provinsiale minister van veiligheid en sekuriteit, gesê.
Shongwe het die moord op 'n dokter by die Middelburg-hospitaal veroordeel.
"Die departement gaan ook vasstel hoe die verdagte met 'n mes toegang verkry het tot die hospitaal sonder dat sekuriteitswagte hom sien. Stappe moet ook gedoen word teen die sekuriteitswagte wat versuim om hul pligte uit te voer."
Dr. Ntobeko Mkhize (27) was omstreeks 12:00 besig om ’n 32-jarige man in een van die spreekkamers by die hospitaal se buitepasiënte-afdeling te ondersoek toe ’n rusie blykbaar ontstaan het, berig Beeld.
Die man het glo ’n mes uit sy baadjiesak gepluk en Mkhize in die regterarm gesteek. Daarna het hy die mes in die Mkhize, wat tans sy gemeenskapdoktersjaar voltooi, se borskas gesteek.
Mkhize, oorspronklik van KwaZulu-Natal, het glo uit die ondersoekkamer gestrompel om hulp te kry.
Intussen het die aanvaller uit dié stampvol afdeling van die hospitaal gevlug.
Toe die verdagte by die hospitaalhek probeer uithardloop, is hy deur veiligheidsbeamptes voorgekeer. Hy het een van die beamptes twee keer in die regterpols gesteek. Hy het daarna gevlug en is sedertdien soek. Die veiligheidswag word tans in die hospitaal behandel.
Die swaar gewonde Mkhize is deur geskokte personeel probeer help, maar sy besering was so erg dat hy na die Midmed- private hospitaal in Middelburg oorgeplaas moes word. Hy is kort ná sy opname daar dood.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA