‘Alles is darem nie sleg by Spele’
2010-09-28 07:42
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse Statebondspelespan het gisteraand in Nieu-Delhi in ’n vyfsterhotel tuisgegaan en sal dalk eers vandag hul intrek in die atletedorp neem.
“Die organiseerders het my die versekering gegee dat as alles nie volgens ons wense in die atletedorp is nie, kan die span op hul koste ’n ekstra nag in die hotel oorbly,” het Tubby Reddy, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), gesê.
Die hele Suid-Afrikaanse span is nog nie in Nieu-Delhi nie. Van die swemmers is nog by ’n oefenkamp in Singapoer en die fietsryspan gaan vandeesweek eers aan die Wêreld-padbyeenkoms in Melbourne deelneem, het hy gesê.
“Die Suid-Afrikaanse baan- en veldatlete vertrek eers oormôre.”
Volgens Reddy het Saskok aanvanklik sy bedenkinge oor die Spele gehad. “Alles is beslis nog nie reg nie. Oor die naweek het die atletedorp nog erg sleg gelyk met al die bourommel wat daar rondlê.
“Ek het ook gehoor dat die dak van die stadion waar die stoeiers of die gewigoptellers gaan deelneem ingestort het en dat daar nou koorsagtig gespook word om dit betyds te herstel. Lede van Indië se weermag is ingeroep om te help opruim.
“Alles is darem nie sleg nie. Van die stadions is regtig indrukwekkend.”
Reddy het gesê niemand hoef hulle oor die span se veiligheid te bekommer nie.
“Ons het reeds heelwat samesprekinge met die Spele se veiligheidshoofde gehad en is tevrede dat hulle weet wat hulle doen. Ons neem ook ons eie veiligheidspersoneel saam wat saam met die atlete gaan bly.
“Hul hooftaak gaan wees om die atlete 24 uur per dag te monitor. Elke spanlid gaan ’n plaaslike SIM-kaart kry sodat ons deurgaans in verbinding met mekaar kan bly.”
Reddy meen die onttrekking van verskeie top-atlete sal nie afbreuk aan die Spele doen nie.