Alle landbouwette hersien
2010-02-25 16:25
Amelia Genis en Alani Janeke
Kaapstad - “Dit is radikaal, maar totaal nodig.” Só sê me. Tina Joemat-Petterson, minister van landbou, bosbou en visserye, nadat sy vanoggend bekend gemaak het dat alle landbouwette hersien gaan word. Sy was een van die sprekers by Agri SA se bedryfs- en boerontwikkelingskonferensie in Somerset-Wes.
Die 14 landbouwette wat voor 1994 en alle landbouwette wat na 1994 gepromulgeer is, sal hersien word. Dit sluit beleidsdokumente in.
Verouder en ontoepaslik
Volgens Joemat-Pettersson is die rede vir die besluit dat die wette van voor 1994 verouder en ontoepaslik is, en in sommige gevalle teen boere werk. Sy sê die wette is retrogressief. “Dit neem nie die landbousektor vorentoe nie.” Sy het ook gesê dit staan in die pad van die vordering van ‘n ekonomiese landbousektor in die ekonomiese klimaat wat tans beleef word.
“In 1996 het die Strauss-kommissie sy verslag aan die regering oorhandig. Daardie verslag het die witskrif op die landbou geword. Dit het die vryemarkstelsel ingelui en meegebring dat markkragte moes geld en dat vryemarkdenkers die rigting in die landbou aangegee het. Die Strauss-kommissie se verslag het ons naak gelaat. Die beleid wat ons gekies het, het ons naak gelaat,” verduidelik Joemat-Pettersson.
Landbou gestroop van ontwikkeling
Joemat-Pettersson het bygevoeg dat die landbou van enige ontwikkeling gestroop is.
Lees meer op landbou.com