Alarm red dalk dokter se lewe
2012-01-23 08:00
Nelspruit – “Ek het nooit besef die loop van ’n rewolwer is so groot nie.”
So het dr. Tim Scholtz (65) skertsend aan sy gesin gesê kort nadat rowers hom Saterdagoggend by sy huis in Rabiestraat, Polokwane, geskiet het.
Scholtz het onlangs afgetree.
Hy en sy vrou, Lynette, het ontbyt geëet toe hulle ’n lawaai buite die huis by sy kantoor hoor. Hul hond het geblaf.
Scholtz het omstreeks 07:30 met sy .22-Magnus-geweer na buite gegaan.
Hy was besig om die veiligheidshek te sluit toe hy van agter in die linkerarm geskiet is.
Toe hy inmekaarsak, het een van die rowers ’n rewolwer teen sy kop gedruk en gedreig om hom dood te skiet.
“Was dit nie vir my ma se vinnige optrede deur die noodknoppie te druk en die alarm wat afgegaan het nie, het hulle hom doodgeskiet,” het Scholtz se seun, Johan, gesê.
Toe die alarm afgaan, het die rowers gevlug.
’n Noodoperasie is dieselfde dag aan Scholtz se arm gedoen om bene daarin met penne te heg.
Die koeël is ook uit die arm verwyder.
Lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê die verdagtes is steeds soek.
Scholtz se geweer is gesteel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld