Ál minder wittes in Suid-Afrika
2012-02-05 10:54
Kaapstad – Suid-Afrika se wit mense word al hoe minder. Nie net het talle wit mense die land die afgelope dekade vir groener weivelde verlaat nie, dié wat oor is, het minder kinders as hul voorouers.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) raam die wit bevolking sal binne die volgende 15 jaar met 8% of 355 000 mense afneem. Die SAIRR skat die land sal teen 2025 sowat 4 087 350 wit mense hê; 1 219 112 Indiërs; 5 109 549 bruin mense en 45 839 896 swart mense.
Hoewel die SAIRR nie syfers het vir die getal wit mense wat geëmigreer het nie, is daar ’n aansienlike gaping in die ouderdomsgroep van 20 tot 40 jaar op die grafiek oor die samestelling van die wit bevolking. Die enigste verklaring is dat dié mense die land verlaat het.
Verstedeliking, geletterdheid en ambisie verklaar ook hoekom wit vroue al hoe minder kinders het.
Volgens Thuthukani Ndebele, navorser verbonde aan die SAIRR, beklee al hoe meer wit vroue topposte by die werk en geniet hulle persentasiegewys groter verteenwoordiging op dié vlak as vroue van ander rasse.
“’n Loopbaan is vir hulle (wit vroue) belangriker as om ’n gesin te hê. Hulle is beter geletterd en het groter vryheid om te kies wanneer hulle kinders wil hê en hoeveel.”
Voorts woon die meeste wit mense in stedelike gebiede – Kaapstad, Johannesburg, die Oos-Rand en Pretoria – waar dit moeilik is om ’n groot gesin te hê.
“Wit mense en Indiërs het ’n hoër lewenstandaard en dit word gewoonlik vereenselwig met laer geboortesyfers,” het Ndebele gesê.
Die omvattende statistieke oor die stand van die land wat demografie, ekonomie, werkskepping, arbeid, onderwys, gesondheid, lewenspeil, misdaad en regering betref, is in die SAIRR se South Africa Survey vir die 2010-’11-boekjaar vervat.
Dié opname word jaarliks uitgereik en het opnuut bevestig dat wit mense die minste deur werkloosheid geraak word en beter betaal word as mense van ander rasse.
Bykans 1 uit elke 3 swart mense (29%) is werkloos, terwyl minder as 1 uit elke 10 wit mense (6%) in dieselfde bootjie is. Daar is 4,3 miljoen werklose mense in die land van wie 3,7 miljoen of 86% swart is; 440 000 bruin, 64 000 Indiërs en 124 000 wit. Voorts is 72% van die werkloses tussen die ouderdom van 15 en 34 jaar.
Volgens die SAIRR beloop Suid-Afrikaners se gemiddelde jaarlikse inkomste R36 253 per persoon. As dit egter volgens ras bereken word, verdien wit mense jaarliks gemiddeld R149 000 per persoon en is swart mense die laags besoldigde groep met ’n jaarlikse inkomste van R21 075 per persoon.
Die meeste bestuursposte word steeds deur wit mans beklee (34%), gevolg deur swart mans (22%), wit vroue (14%), swart vroue (11,4%), bruin mans (6,3%) en bruin vroue (3,9%).
Só gaan die samestelling van Suid-Afrika se bevolking verander:
* Die aantal wit mense sal van 2010 tot 2025 met 8% of sowat 355 000 afneem.
* Al die ander bevolkingsgroepe se getalle sal in dieselfde tydperk styg: swart mense met 14%; bruin mense met 13% en Indiërs met 0,8%.
* Wit mense het van 1911 tot 2011 met 260% toegeneem (van 1,27 miljoen in 1911 tot 4,56 miljoen teen 2011). Dit is die laagste groeisyfer van alle rasse in ’n eeu. Swart mense het in dieselfde tydperk met 900% toegeneem tot 40,2 miljoen; bruin mense met 770% tot 4,5 miljoen en Indiërs met 740% tot 1,2 miljoen.
* Die bevolkingsgroei het van 1992 tot 2011 egter verlangsaam: wit mense het in dié tyd met 6,8% toegeneem; swart mense met 43%; bruin mense met 37% en Indiërs met 30%.
* In 1911 het wit mense 21% van die bevolking uitgemaak; vandag is dit 9% en teen 2040 sal dit 7,3% wees.
* In 1911 het swart mense 67% van die bevolking uitgemaak, vandag is dit 79,5% en teen 2040 sal dit 81% wees.
* In 1911 het bruin mense 9% van die bevolking uitgemaak, vandag is dit steeds 9% en teen 2040 sal dit 9,3% wees.
* In 1911 het Indiërs 3% van die bevolking uitgemaak, vandag is dit 2,5% en teen 2040 sal dit 2,3% wees.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport