Ál meer kom terug en vestig ondernemings
2010-02-28 08:55
Pretoria - Baie Suid-Afrikaners wat uit die buiteland terugkeer, doen dit om hier entrepreneurs te word.
Volgens
me. Martine Schaffer, besturende direkteur van The Homecoming
Revolution, is dit vir sulke mense makliker om in Suid-Afrika ’n
onderneming te begin as in, byvoorbeeld, Europa.
Hulle gebruik
die vaardighede en ervaring wat hulle in die buiteland opgedoen het om
hier iets nuuts te begin en talle fokus op ondernemings wat ’n
maatskaplike impak het.
Homecoming Revolution is ’n niewinsgewende organisasie met die doel om vaardighede na Suid-Afrika terug te lok.
Hulle ervaar die afgelope twee jaar ’n toename van meer as 50% in Suid-Afrikaners wat registreer om inligting te bekom.
Schaffer
sê hulle hoef sulke mense nie meer te oortuig om terug te kom nie.
“Mense praat nie meer van ‘as’ ons terugkom nie, maar ‘wanneer’.”
Volgens
Schaffer het die wêreldwye resessie ’n impak gehad, maar diegene wat
wil terugkom, is nie mense wat geen ander uitweg het nie.
Dit is ook mense met ’n wye verskeidenheid vaardighede.
Homecoming
Revolution se webblad kry maandeliks 13?500 individuele besoekers en in
Januarie was daar 250 versoeke vir meer inligting.
Die belangrikste beweegredes om terug te kom is:
- vriende en familie;
- die leefstyl in Suid-Afrika; en
- ’n gevoel dat hulle hier hoort.
Op
20 en 21 Maart bied die organisasie ’n uitstalling in Londen aan waar
Suid-Afrikaners inligting kan kry oor werkgeleenthede, onafhanklike
skole, nagraadse onderrig, eiendom, banksake, immigrasie, en die
vestiging van ’n onderneming.
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport.