Al-Kaïda wil WB teiken – verslag
2010-05-17 16:16
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) doen navrae oor `n verslag wat beweer dat `n weermagoffisier in Irak gearresteer is oor `n beweerde komplot om die komende Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika te teiken.
"Ek weet heeltemal niks hiervan nie, ek sal navrae doen," het kol. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, gesê.
Musa Zondi, woordvoerder vir genl. Bheki Cele, kommissaris van polisie, was ook nie bewus van die voorval nie.
Die Duitse nuusagentskap, Deutsche Press Agenteur, het berig dat die Saoedi-Arabiese kol. Azzam al-Qahtani, ook bekend as Sanan al-Saudi, Irak in 2004 binnegaan het. Dit word geglo dat hy betrokke was in aanvalle op godsdienstige plekke in Karbala en Najaf.
Hy word beskuldig daarvan dat hy saamgewerk het met Ayman al-Zawahiri, Al-Kaïda se tweede in bevel, om aanvalle tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi uit te voer.
Cele het op 13 Mei gesê die SAPD weet van geen sekuriteitsbedreiging nie.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.