Al-Kaïda-man se SA paspoort was ou ontwerp
2011-06-15 14:59
Pretoria – Die Suid-Afrikaanse paspoort wat by die lyk van Al-Kaïda en Al-Sjabaab se leier in Oos-Afrika gevind is, is vervals, het Mkuseli Apleni, direkteur-generaal van binnelandse sake, Woensdag gesê.
Apleni het gesê die vervalste paspoort was gebaseer op die vorige ontwerp van die paspoort.
Fazul Abdullah Mohamed, Al-Kaïda en Al-Sjabaab se leier in Oos-Afrika, is die afgelope naweek “per ongeluk” by ’n padversperring deur die Somaliese polisie doodgeskiet.
Hy het ’n Suid-Afrikaanse paspoort in die naam van Daniel Robinson, sowel as $40 000, by hom gehad.
Apleni het gesê die paspoort is nie deur Suid-Afrikaanse owerhede uitgereik nie. Daar is ook geen rekord van die paspoort wat gebruik is om in Suid-Afrika te kom of die land verlaat nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA