Akademiese hospitaal sit met 'massiewe probleme'
2012-02-08 17:02
Johannesburg – Die departement van gesondheid sê daar is massiewe probleme by die Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal in Soweto.
“Daar is massiewe probleme by Chris Hani. Daar is groot probleme by die kraamafdeling,” het Fidel Hadebe, ‘n woordvoerder vir die departement, gesê.
Hadebe kon nie die kwessies “kategoriseer” nie, maar sê die nasionale- en provinsiale gesondheidsdepartement is in gesprek met die hospitaal om die tekort aan personeellede op te los.
“Dit is hoekom verpleërs [van die Suid-Afrikaanse nasionale verdedigingsmag] ‘n paar weke gelede ontbied is om by die hospitaal uit te help.”
Hadebe het gereageer op ‘n berig in The Star wat ‘n uitgelekte brief aangehaal het. Die brief was van die hospitaal se hoof van verloskunde aan sy eweknie by die Universiteit van die Witwatersrand.
In die brief beskryf dr. Eckhart Buchmann hoe ‘n tekort aan personeellede en oorvol sale tot twee babas se dood in die eerste twee weke van Januarie gelei het.
Dokters het gesê die babas het breinskade opgedoen toe hulle by geboorte versmoor het en nie gou genoeg behandel is nie.
Onhigiëniese toestande in die kraamafdelings, soos maaiers in bebloede beddegoed, is ook aangemeld.
Johanna More, hoof- uitvoerende beampte van die hospitaal, het glo gesê sy was nie bewus van dié gevalle nie. Sy het ook ontken dat die gevalle aan ‘n tekort aan personeellede gekoppel is.
Hadebe sê een van die probleme is dat omliggende klinieke nie behoorlik funksioneer nie en dat mense gevolglik “na Chris Hani stroom.”
Die hospitaal sukkel om tred te hou met die toename pasiënte.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA