Airlink-vliegtuig oorverhit, moet omdraai
2010-01-21 13:26
Johannesburg – ‘n SA Airlink-vliegtuig op pad na Antananarivo, Madagaskar, moes Maandag kort nadat dit opgestyg het, omdraai as gevolg van oorverhitting, het dié lugredery Donderdag gesê.
Karin Murray, 'n woordvoerder vir die lugredery, het Donderdag gesê die vliegtuig moes omdraai omdat die teenvriesstelsel in een van sy enjins oorverhit het.
Weerstelsels het glo ook 'n rol in die besluit gespeel.
"Dit was in die belang van veiligheid om die tuig te laat omdraai,” het Karin Murray, woordvoerder, gesê.
"Ons het na die passasiers omgesien en rëelings vir hotelle en akkommodasie getref tot die volgende vlug beskikbaar was,” het sy gesê.
In Desember het die Burgerlugvaartowerheid (BLO) die lugwaardigheid van 14 Airlink-vliegtuie opgeskort.
Een van dié 14 vliegtuie is in Januarie weer toegelaat om passasiers te vervoer. Die opskorting het met verskeie voorvalle waarby Airlink betrokke was, te make.
- Sapa